Franschhoek-moord: Polisie ondersoek glo owerspel
2010-07-23 11:25
Johannesburg - Johan du Toit, die Franschhoek-man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou, Chanel, vermoor het, het na bewering die aand voor haar dood met haar stry gekry, volgens ‘n artikel in die jongste uitgawe van Huisgenoot.
Die 26-jarige verdagte is slegs 24 uur na sy vrou, Chanel du Toit (28), se gedenkdiens in hegtenis geneem. Hy word daarvan verdink dat hy sy vrou verwurg het.
Volgens Huisgenoot was daar ‘n groot partytjie die aand voor Chanel se dood in die vroeë oggendure van 7 Julie.
Iemand na aan die ondersoekspan het ook onder meer aan Huisgenoot genoem dat die polisie glo buite-egtelike verhoudings aan albei kante ondersoek.
Selfoonverslae toon na bewering dat Johan meer oproepe na Chanel se beste vriendin gemaak het as sy self. Die vriendin het glo erken daar was ’n “vryery”, berig Huisgenoot.
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.