Foto van ontvoerde SA man bring hoop
2011-12-12 12:30
Johannesburg – 'n Foto van 'n Suid-Afrikaanse man wat in Mali ontvoer is, is deur sy ontvoerders aan die regering van dié land oorhandig, het The Star berig.
Die foto is Vrydag deur Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM), wat verantwoordelikheid vir die ontvoerings aanvaar het, aan owerhede gegee.
Dít bring hernude hoop aan die 36-jarige man se familie dat hy binnekort sal tuis wees.
"Dit was 'n moeilike paar weke, maar ons hoop ons seun sal Kersfees tuis wees," het sy pa gesê.
Die groep het gesê hulle het twee Franse mans in die sentrale dorp van Hombori, sowel as drie toeriste in Timboektoe ontvoer.
Geen besonderhede is bekend gemaak oor die welstand van die slagoffers nie. Die groep het ook geen inligting bekend gemaak oor 'n Duitse man wat doodgeskiet is toe hy geweier het om saam met gewapende mans in 'n vragmotor te klim nie.
Die vermiste toeriste is 'n Suid-Afrikaner, 'n Nederlander en 'n Sweed.
'n Losprys is nie geëis nie en die man se pa glo die ontvoering was 'n politieke stelling.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA