Fiona se broer neem ook sy eie lewe
2010-11-30 09:10
Johannesburg - Drie maande nadat die TV-persoonlikheid Fiona Coyne selfmoord gepleeg het, het haar ouer broer blykbaar ook sy lewe geneem.
Die lyk van Bruce Coyne (57), ’n grafiese ontwerper, is Maandagoggend in ’n gastekamer in sy huis in Rietondale in die Pretoriase Moot-gebied gevind. Daar was twee briewe by sy lyk.
Coyne se vrou, Jacky, het Maandag omstreeks 06:00 op sy lyk afgekom.
Ao. Duane Lightfoot, polisiewoordvoerder, het gesê geen misdaad word in dié stadium vermoed nie. Daar sal slegs ná ’n lykskouing bepaal kan word hoe Coyne dood is en of hy inderdaad selfmoord gepleeg het. Hy het gesê daar was geen bloed op die toneel nie.
Mixael de Kock, ’n goeie vriend van die Coyne-egpaar, het Maandagaand gesê Bruce was baie hartseer oor sy kleinsussie se dood.
“Hulle was baie na aan mekaar, soos vinkel en koljander. Sedert Fiona se dood het ek en Bruce byna elke dag oor haar gepraat,” het De Kock gesê.
“Bruce was ’n inspirerende mens. Hy het my geleer om buite die grense en sosiale verwagtinge te leef. Hy het geglo enigiets is moontlik, net solank mens daaraan glo. Dit is moeilik om te aanvaar dat hy nie meer hier is nie, maar ek weet hy sal altyd naby my wees, want hy is deel van wie ek is.”
Fiona Coyne (45), wat ’n aktrise en aanbieder van die TV-program The Weakest Link was, het in Augustus selfmoord gepleeg in haar huis in Vishoek in die Wes-Kaap.
Die Coynes het nóg ’n broer, Charles Coyne (53).
Volg Beeld op Twitter. Klik hier.