Fietsryer oorleef val van brug
2011-09-27 08:02
George - 'n Fietsryer wat Sondag in die Karoo-tot-Kus-bergfietsuitdaging sowat 12 m ver van ’n brug in die water geval het, het gister gesê dit is ’n wonderwerk dat hy leef.
Marius Louw, besturende direkteur van Du Toitskloof-wyne in die Paarl, was een van 3 500 deelnemers wat die wedren van 100 km tussen Uniondale en Knysna aangedurf het.
Volgens Louw het die voorval sowat 35 km van die wegspringplek op ’n lang afdraande gebeur. Hy het sy oë vir ’n breukdeel van ’n sekonde van die pad gehaal kort nadat hy ’n energiesakkie uit ’n sak gehaal het.
“Ek wou die sakkie terugsit en het afgekyk. Dit is toe dat ek val.”
Volgens hom het hy by ’n brug, tussen ’n padreling en ’n krans, afgeval. “Ek het bo-op my fiets, reg op my rug, in die water geland. Die water was so 6 duim (15 cm) diep. Daar was ’n rugsak op my rug wat my val help keer het.”
Louw was vol lof vir plaaslike noodwerkers, soos Deon van Wyk, wat kom help het.
“Dit was ’n blessing. Deon het voorgestel dat die AMS Metro-helikopter ingebring word. Die Here was goed vir my.”
Volgens Venessa Horn, AMS-woordvoerder, kon die helikopter sowat 100 m land van die plek waar Louw geval het. Hy is op ’n draagbaar gelaai en per helikopter na die George Mediclinic gebring.
Daar is aanvanklik gevrees dat hy sy nek beseer het, het George Schutte, bestuurder van die George Medi-Clinic, Maandag gesê. “Mnr. Louw is gelukkig. Hy het skaafwonde opgedoen en slegs sy linkerknie beseer.”
Louw is Maandag ontslaan. Volgens hom ken hy die roete en het hy Sondag die tweede keer aan die Karoo-tot-Kus-bergfietswedren deelgeneem.
Sue Fitzpatrick, voorsitter van die reëlingskomitee en president van die Knysna Lions, het gesê daar was geen groot krisisse ten tyde van die wedren nie. “Mense het geval, maar dit gebeur.”
Die wedren word deur Pennypinchers en Die Burger geborg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger