Fietsryer (60) kritiek ná botsing met vragmotor
2010-03-07 23:10
Johannesburg – ‘n 60-jarige fietsryer is in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal in Pietermaritzburg nadat hy met ‘n vragmotor gebots het, het Paramedici Sondag gesê.
Na bewering het die ongeluk naby Howick in KwaZulu-Natal plaasgevind.
“Die man het glo op sy fiets gery toe hy Saterdagmiddag trompop met die vragmotor gebots het. Die presiese verloop van gebeure is nog nie bekend nie,” het Jeffrey Wicks, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
Die fietsryer het ernstige bors- en hoofbeserings opgedoen en is eers op die toneel gestabiliseer voordat hy per ambulans na die hospitaal vervoer is.
– Sapa