Fietsry-legende Alan van Heerden sterf
2009-12-16 07:30
André Damons
Johannesburg - Alan van Heerden (57), een van Suid-Afrika se beste fietsryers nóg, is gister dood nadat sy motor teen ’n muur gebots het ’n dag ná ’n klein operasie aan sy arm.
Van Heerden is eergister uit die Linksfield-kliniek in Johannesburg ontslaan na ’n operasie waarin ’n rekspalk (stent) in ’n aar in sy arm geplant is om te help met die bloedtoevoer na sy hand.
Hy het ’n week gelede 57 geword.
Johnny Koen, jare lange vriend en spanmaat, het gister gesê hy en Chris Willemse, nog ’n Springbok-fietsryer en vriend van Van Heerden, wou hom gister bel om hom sterkte na die operasie toe te wens.
Hulle kon hom nie in die hande kry nie. Vermoedelik het die ongeluk toe reeds gebeur.
Van Heerden is in die Sunninghill-hospitaal dood aan erge kopbeserings. Sy bekken was ook gebreek.
Nóg sy, vriende nóg die polisie het gister geweet presies waar die ongeluk gebeur het.
Van Heerden het in 1979 ’n skof in die Giro d’Italia gewen, en het later twee keer ’n wêreldtitel as veteraan gewen.
Willemse het op die webwerf thehubsa.co.za geskryf hy beskou homself as gelukkig om teen Van Heerden te kon meeding.
“Ek het ’n paar maande saam met hom gebly gedurende 1975 en was steeds in kontak met die Idol, soos baie van ons hom genoem het,” skryf Willemse.
In ’n onderhoud met die webwerf, thekingofbling.co.za, het Van Heerden gesê sy meer as 1 000 oorwinnings op die pad en 21 tweede plekke as professionele fietsryer in België, was ook vir hom belangrik.
Koen het Van Heerden gister as een van die beste fietsryers van alle tye beskryf. “Hy was ’n freak. Die beste fietsryer in Suid-Afrika is weg. Ek dink nie ons gaan weer so iemand hê nie.”
Robbie Hunter, bekende Suid-Afrikaanse fietsryer, het op Twitter, die sosiale netwerk, geskryf Van Heerden se dood is hartseer nuus vir Suid-Afrika en ’n verlies vir Suid-Afrikaanse fietsry. Hy sal altyd onthou word, het Hunter geskryf.
- Beeld