Feesseisoen eis 1 475 lewens op paaie
2012-01-16 19:07
Pretoria – Minstens 1 475 mense het tydens die feesseisoen in padongelukke gesterf, het Sbu Ndebele, minister van vervoer, Maandag gesê.
Voorlopige syfers van die verkeersbestuurskorporasie vir die tydperk van 1 Desember 2011 tot 10 Januarie 2012 reflekteer ‘n totaal van 1 230 dodelike ongelukke.
Ndebele sê mense wat te vinnig in slegte weerstoestande gery het, het van die meeste ongelukke oor die 2011/12 feesseisoen veroorsaak. Ander oorsake was roekelose- en onbedagsame bestuur en alkoholmisbruik deur bestuurders en voetgangers.
Hy sê mense wat nie hul sitplekgordels dra nie, dra grootliks by tot sterftes of ernstige beserings.
“Nooddienste-personeellede kan getuig dat gans te veel mense dood is omdat hulle nie hulself vasmaak nie,” het Ndebele gesê.
Verlede jaar (2010/11) se aantal sterftes het 1 704 bereik.
Die fokuspunt vir 2012 is om die sterftesyfer te verminder.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA