Familielid van Mandela glo bestuurder in ongeluk
2010-06-12 12:13
Johannesburg – Nelson Mandela se kantoor het gesê dat dit ‘n familielid was wat die motor bestuur het waarin die oud-president se agterkleinkind vroeg Vrydagoggend in ‘n ongeluk dood is.
Sello Hatang, woordvoerder vir die Nelson Mandela-stigting, het Saterdag gesê dat die man ‘n familielid was, maar hy wou nie meer spesifiek wees nie. Die man se naam is nog nie bekend gemaak nie.
Hatang het bygevoeg dat daar nog nie planne gemaak is vir die 13-jarige Zenani Mandela se begrafnis nie.
Volgens polisie kan die man vir dronkbestuur en manslag aangekla word.
Polisiewoordvoerder Govindsamy Mariemuthoo het Saterdag gesê dat die man, wat nie aangehou word nie, binne die volgende paar dae in die hof kan verskyn.
Mandela het nie die Wêreldbeker-openingseremonie of die eerste wedstryd bygewoon nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP