'Facebook-verkragter' vir waarneming gestuur
2011-10-11 13:32
Johannesburg – 'n Vermeende reeksverkragter wat in Johannesburg in hegtenis geneem is, sal vir sielkundige waarneming gestuur word.
Die man, wat verskeie name, insluitend Thomas Bester, gebruik, is verlede week in hegtenis geneem.
Hy word daarvan beskuldig dat hy dienste van modelle en jong vroue deur hul agentskap verseker het, voor hy hulle na ander provinsies gelok en hulle aangeval, beroof en hulle in sommige gevalle verkrag het.
Die man het ook potensiële slagoffers gelok met werksgeleenthede in die model- en televisiebedryf.
Ondersoekbeamptes probeer die man met minstens een moord in die Wes-Kaap verbind.
Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die man sal teregstaan op sowat 20 aanklagte wanneer hy later vandeesweek in die hof verskyn.
"As jy kyk na die aanklagte teen hom in KwaZulu-Natal, kyk ons na minstens twee aanklagte van verkragting en ander aanklagte soos diefstal waar hy by hotelle ingeboek en televisies gesteel het."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter