'Facebook-verkragter' terug in hof
2011-10-14 11:19
Durban – Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, sal na verwagting Vrydag in die Durbanse landdroshof verskyn.
Bester – voorheen bekend as Thomas, een van sy menigte skuilname – is verlede Woensdag in Alberton, suid van Johannesburg, in hegtenis geneem.
Hy het skuldig gepleit op twee aanklagte van verkragting en twee aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede.
Bester word die "Facebook-verkragter" genoem omdat hy sosiale netwerke, insluitend Facebook, gebruik het om vroue te lok.
Hy het aan hulle gesê internasionale modelagente stel belang in hulle. Bester het dan die vroue verkrag, met 'n mes gedreig en beroof.
Narendra Narotam, sy regsverteenwoordiger, het Woensdag gesê Bester moet deur 'n sielkundige evalueer word.
Hy het gesê sy kliënt het 'n geskiedenis van mishandeling, maar hy het nie besonderhede van die beweerde mishandeling verskaf nie.
Verdere besonderhede oor 'n vorige veroordeling vir bedrog sal na verwagting Vrydag in die hof bekend gemaak word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA