Fabriekwerkers ontsteld oor 'kort' toiletbreuk
2012-09-19 11:48
Kaapstad – Werkers by ‘n fabriek in Kaapstad is woedend omdat geld glo van hul lone afgetrek word elke keer as hul toiletbreuk langer as 12 minute is, is Woensdag berig.
Die Daily Voice berig dat werkers by Capewell Springs in Epping voel die tydsbeperking is onbillik.
“Hierdie is ‘n skending van ons menseregte... [Twee weke gelede] is geld van my salaris afgetrek vir tyd wat ek verloor het,” het Keith Hector (40) gesê.
‘n Foto van een van sy betaalstrokies het ‘n aftrekking van R40 gewys met die woord “verlore” wat onderaan gegee is as verduideliking.
Dulon Beneke (39), ‘n ander werker, sê hy moes tyd afneem toe hy ‘n maagvirus opgedoen het.
“Ek moes siekteverlof neem, want ek kan dit nie bekostig om elke keer toilet toe te gaan nie.”
‘n Beampte van die departement van arbeid het aan die koerant gesê die Wet op Basiese Diensvoorwaardes gee nie besonderhede oor toiletbreuke nie, maar aanvaar dat gesonde verstand toegepas sal word.
Graham Montgomery, direkteur van Capewell Springs, het geweier om met die koerant te praat.
“Ek het niks om vir julle te sê nie,” het hy gesê voordat hy die oproep beëindig het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA