Fabriek gesluit ná gasontploffing
2013-02-15 16:29
Kaapstad – Die stad Kaapstad het die Global Gases-fabriek tydelik gesluit nadat twee mans in 'n gasontploffing gesterf het, het 'n woordvoerder gesê.
"Ná die gesamentlike inspeksie wat gister [Donderdag] deur owerhede uitgevoer is, is 'n bevel aan die bestuur uitgereik dat die fabriek gesluit gaan word," het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die stad se rampbestuursentrum, gesê.
'n Span kenners van die stad, die departement van arbeid en die polisie het Woensdag se ontploffing ondersoek.
'n Kennisgewing is uitgereik om dringende herstelwerk aan die gebou te doen om dit te beveilig. Die kennisgewing is ingevolge die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde uitgereik.
Solomons-Johannes het gesê 'n privaat diensverskaffer, Comp Air, is gekontrakteer om 'n kompressor by die fabriek in die Atlas Gardens-nywerheidsgebied te herstel. Die ontploffing het omstreeks 16:00 plaasgevind.
Die tegnikus Martin O'Connor is dood en Global Gases en tegniese voorman Saji Thekkemalayil Chandrasekharaan het 'n been verloor en is oornag in die hospitaal dood. Chandrasekharaan het 'n geldige werkspermit gehad.
Twee ander mense sterk aan in die intensiewe sorgeenheid. Albei die kontrakteur Brandon Pretorius se bene is geamputeer en hy is in 'n kritiese, maar stabiele toestand. Jean Rossouw se toestand is ernstig, maar stabiel.
Theo Layne, woordvoerder van die stad se brand-en-reddingsdienste, het gesê vier ander mense het ligte beserings opgedoen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA