FW waarsku Zuma oor provinsies
2009-08-18 17:26
Kaapstad- FW de Klerk het president Jacob Zuma Donderdag gewaarsku om sy hande van die provinsies weg te hou.
Dít kom na ‘n besluit deur Zuma om moontlik die Grondwet te verander wat die regering meer beheer oor die provinsies sal gee.
“Ek plaas klem op die feit dat ons nie in enige manier die historiese ooreenkoms wat in die Grondwet vasgevang is moet ondermyn nie,” het De Klerk aan verslaggewers gesê ná ‘n vergadering met Zuma.
De Klerk sê hy het die kwessie van die 17de Wysigingswetsontwerp aan die Grondwet aangeraak, wat die regering die mag gee om in te meng by munisipaliteite.
Volgens kritici kan dit die beheer en mag van die provinsie ernstig inkort.
Die voormalige president het ook gesê dat hy en Zuma verskeie ander kwessies aangeraak het en dat hul albei saam sal werk om armoede te beveg.
Volgens Zuma was dit ‘n “aangename en vriendelike” gesprek tussen hom en De Klerk en sal hy graag weer met hom wil vergader.
–Sapa