FW: Ideologie versmoor produksie
2010-06-29 10:20
Beeld
Kaapstad. – Die “onderdrukkende invloed” van ideologie is besig om landbouproduksie te versmoor en solank die behoeftes van die landbou ondergeskik aan politiekery is, sal voedselsekerheid in die gedrang bly.
So het oudpres. FW de Klerk Maandag aan sakeleiers by Fortune, Time en CNN se Global Forum gesê.
Hy het tydens ’n paneelbespreking oor landbou gesê ideologie as rigsnoer in die bepaling van landboubeleid het dié bedryf in lande soos Rusland duur te staan gekom.
“Ons sit in hierdie land met daardie uitdaging. Ek herhaal: Haal ideologie uit landbousake, anders is Zimbabwe jou voorland.”
Hy het beklemtoon daar is ’n behoefte aan omvattende grondhervormingspogings en om swart boere op grond te vestig, maar gesê die lomp en ondeurdagte toepassing van beleid ondermyn dit.
“Ons het hier gesien hoe boere in die steek en sonder finansiering of ondersteuning gelaat word. Dit knou produksie en laat dit in sommige gevalle heeltemal tot stilstand kom.”
Eleni Gabre-Madhin, hoofamptenaar van die Ethio-piese kommoditeitsbeurs, het gesê eiendomsekerheid is die hoeksteen van belegging en dat niemand in ’n land sal belê as daar vrese oor eienaarskap is nie.
Haar eie land sukkel om landbouproduksie te optimaliseer omdat bewerkbare grond grotendeels in kleinboere se hande is.
De Klerk het bygevoeg gemeenskaplike landbougrond is nie die oplossing nie omdat bestaansboere net daarop fokus om genoeg vir eie verbruik te produseer.
“Eienaarskap verskaf die dryfkrag aan verbouers om genoeg te produseer en in hul ondernemings te belê. Dít stimuleer produksie en bied voedselsekerheid.
Regeringsplanne om ’n nuwe struktuur van grondeienaarskap in wetgewing te giet het vroeër vanjaar ’n beroering veroorsaak.
Dié nuwe beleid word in ’n groenskrif vervat wat reeds in April vir kommentaar bekend gemaak sou word.
Die kabinet het dit egter nog nie goedgekeur nie.
“Dit lyk of daar kwaai debatvoering in die ANC oor die kwessie is,” het De Klerk gesê.
“Gegewe die patroon wat ons kan sien, van Polokwane regdeur tot by die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming se uitsprake en geluide elders, lyk dit of die ANC verreikende koersaanpassings wil maak.
“Ek hoop egter nugter denke seëvier.”
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld