FW: Apartheid 'moreel onverdedigbaar'
2012-05-11 07:30
Kaapstad – Oudpres. FW de Klerk het Donderdagaand tydens 'n onderhoud, wat op CNN uitgesaai is, gesê apartheid was moreel onaanvaarbaar en dat die ANC-alliansie moet ontbind, berig Times Live.
De Klerk het in 'n onderhoud met die bekende TV-joernalis Christiane Amanpour sy "historiese antagonisme" en vriendskap met oudpres. Nelson Mandela, die mislukking van die apartheidstelsel en die tekortkominge van die huidige regering bespreek.
Op die vraag of hy saamstem dat apartheid moreel onaanvaarbaar is, het De Klerk gesê: "Soveel soos dit menseregte vertrap het, was dit en is steeds moreel onverdedigbaar."
De Klerk het ook ontken dat swart mense in die tuislande gemarginaliseer was.
"Hulle is nie gemarginaliseer nie, hulle het gestem. Hulle is nie in tuislande geplaas nie, die tuislande was histories daar."
Oor die stand van Suid-Afrika se demokrasie vandag, het hy gesê: "Ek is daarvan oortuig dat dit 'n standvastige demokrasie is, en so sal bly, maar dat dit nie 'n gesonde demokrasie is nie."
De Klerk het ook gesê die ANC-alliansie moet ontbind omdat dit ongesond is vir een party om die politieke landskap te domineer.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter