Eskom-verhoging 'onvermydelik'
2013-02-05 16:35
Johannesburg – Suid-Afrikaners het nie ‘n ander keuse as om Eskom se vyfjaar-tariefverhoging te aanvaar nie, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.
Paul Joubert, 'n navorser, het gesê die monopolistiese struktuur van die elektrisiteitsmark maak dit amper onmoontlik om te bepaal of die pryse waarop Eskom se energiereguleerder ooreengekom het, geskik sal wees.
Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het verlede week verhore oor die voorgestelde verhoging gehou.
Eskom vra vir ‘n jaarlikse prysverhoging van 16% in elektrisiteitspryse vir die volgende vyf jaar. Dit sal die prys van elektrisiteit van 61 c per kilowatt-uur in 2012/13 tot R1,28 per kilowatt-uur in 2017/18 verhoog.
Joubert het voorgestel dat onafhanklike elektrisiteitopwekkers in die energiemark toegelaat word.
“[Ons] stel voor dat die mark vir elektrisiteit oopgestel word vir onafhanklike opwekkers sodat ooreenkomste met verbruikers of plaaslike verspreiders van elektrisiteit direk gemaak kan word. Eskom se enigste rol sal wees om die elektrisiteit oor ‘n transmissienetwerk te verskaf teen ‘n nominale fooi,” het hy gesê.
Joubert het gesê enige foute wat Eskom en Nersal oor vorige prysverhogings gemaak het, raak verbruikers, wat geen ander keuse het as om elektrisiteit van Eskom te koop nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA