Eskom kan pryse sny
2012-02-11 07:05
Kaapstad – Eskom se jongste finansiële resultate het dit moontlik gemaak vir die regering om die moontlikheid van laer elektrisiteitstariefverhogings te oorweeg.
Eskom het in die ses maande tot 30 September 2011 ’n netto wins van R12,8 miljard verklaar.
Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, het Donderdagaand gesê pres. Jacob Zuma was in sy staatsrede baie duidelik oor sy verwagtings vir elektrisiteitspryse.
“Die president kon toe aankondig dat elektrisiteitsprysverhogings moontlik kan daal, danksy die sterk finansiële posisie van Eskom op die oomblik,” het Gigaba gesê.
Die departement gaan ’n voorlegging aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) doen tot steun van ’n laer verhoging in elektrisiteitstariewe reeds van 1 April af. Tariewe sou op 1 April met 25% gestyg het, maar die verwagting is nou dat die styging heelwat minder sal wees.
Gigaba het gesê hy verwag dat Nersa binne die volgende vier weke reeds ’n besluit hieroor sal aankondig. Hulle kyk ook na die moontlikheid van laer tariefverhogings van volgende jaar af.
Die omvang van die verlagings sal afhang van die samewerking wat die regering van Suid-Afrikaners kry ten opsigte van elektrisiteitsbesparing.
“Die vraag na krag moet daal en Suid-Afrikaners moet ons daarmee help. Die ander faktor wat ’n invloed kan hê op die prys van elektrisiteit vorentoe, is natuurlik insetkoste, veral steenkool, en ons hoop om binnekort groter duidelikheid te hê oor die verwagtings vir dié insetkoste vir die volgende vyf jaar,” het Gigaba gesê.
Janice Keogh berig dat Hilary Joffe, Eskom-woordvoerder, gesê het sy is glad nie verbaas oor pres. Zuma se voorstel in die staatsrede nie. Joffe het gesê soos sake nou staan is die tariefverhoging steeds 25%, soos wat die geval was in die afgelope twee jaar.
“Eskom is besig met besprekings oor ’n voorstel wat ons vanjaar aan Nersa gaan maak oor die prystoename vir die volgende drie jaar (van 1 April 2013).”
Eskom is bewus van die las op die ekonomie en sal dit in ag neem wanneer hy sy voorstel aan Nersa maak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger