‘Ernstige kommer’ oor nuwe openbare vervolger
2011-06-17 12:34
Pieter du Toit
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma het in een van sy belangrikste skuiwe tot nog toe besluit om adv. Menzi Simelane, wie se integriteit die onderwerp van ’n regeringsondersoek was, as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) aan te stel.
Zuma het dié aankondiging gister gemaak – enkele dae nadat die staat en Simelane se voorganger, adv. Vusi Pikoli, ’n skikkingsooreenkoms bereik het waarvolgens Pikoli ’n hofaansoek om sy afdanking te beveg, teruggetrek het.
Opposisiepartye het met afgryse gereageer, terwyl senior amptenare in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gesê het hulle is “bekommerd”.
Dene Smuts (DA) het gesê sy kan nie aan ’n meer onvanpaste aanstelling dink nie, terwyl Patricia de Lille (OD-leier), eerw. Kenneth Meshoe (ACDP-leier) en Pieter Groenewald (VF+-leier in die parlement) die aanstelling veroordeel het.
Simelane is daarvoor bekend dat hy hom vir ’n sterker rol vir die uitvoerende gesag by die NVG beywer en vir sy mening dat die NDOV aan die minister van justisie moet rapporteer.
Hy het tot onlangs as direkteur-generaal (DG) van justisie gedien en is verlede maand as een van vier adjunkdirekteurs van nasionale vervolging aangestel.
Die presidensie het in ’n verklaring gesê Simelane is aangestel ondanks ’n ondersoek wat die Staatsdienskommissie (SDK) in opdrag van die destydse pres. Kgalema Motlanthe gedoen het.
Dít het gevolg op Simelane se getuienis gedurende die kommissie van ondersoek na Pikoli se geskiktheid vir die posisie van NDOV.
Dr. Frene Ginwala, die kommissie se voorsitter, was skreiend in haar bevindings en het gesê Simelane se gedrag en getuienis “het veel te wense oorgelaat”.
Sy het onder meer gesê dit is “teenstrydig”, “onakkuraat en sonder enige gronde in feite of die wet”, “vals”, “sonder enige substansie”, “ver van die waarheid verwyder” en bes moontlik deur ’n persoonlike vete gemotiveer.
Motlanthe het die SDK in Desember verlede jaar gevra om ’n ondersoek na Simelane te doen “omdat sy eerlikheid in twyfel getrek word”.
Dié ondersoek is voltooi en Jeff Radebe, minister van justisie, het besluit om geen verdere stappe teen Simelane te doen nie.
Hoewel reeds berig is die SDK het aanbeveel Simelane moet aan tugstappe onderwerp word, is die verslag ondanks beloftes deur Radebe nog nie bekend gemaak nie.
Sowel Vincent Magwenya, Zuma se woordvoerder, as Tlali Tlali, Radebe se woordvoerder, het gister gesê niks weerhou Simelane daarvan om in enige senior regeringspos te dien nie.
- Die Burger