Begroting knyp in Zuma se kantoor
2011-11-25 11:11
Johannesburg – Oud-presidente en -adjunkpresidente sal nie toegelaat word om tot April aanstaande jaar binnelands te reis nie, het The Times Vrydag berig.
Weens "ernstige begrotingsbeperkings" wat deur pres. Jacob Zuma se kantoor ervaar word, sal oudpress. Nelson Mandela, Thabo Mbeki en FW de Klerk se reistoelaes afgesny.
Dít raak ook oud-adjunkpress. Phumzile Mlambo-Ngcuka en Baleka Mbethe.
Dié toelae sal eers in die nuwe finansiële jaar, wat in April 2012 begin, hervat word.
Mbeki en De Klerk het bevestig dat hulle briewe ontvang het wat hulle van die tydelike opskorting van hul reistoelaes in kennis stel, maar weier om te sê hoe dit hulle gaan raak.
Mlambo-Ngcuka, wat in die Verenigde Koninkryk is, is onbewus van die situasie.
Sello Hatang, woordvoerder van die Nelson Mandela-stigting, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die saak nie.
Zanele Mngadi, woordvoerder van die presidentskantoor, het gesê personeel is aangesê om uitgawes te verminder.
Die begrotingsbeperkings word toegeskryf aan die moeilike ekonomiese klimaat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA