Erg verminkte tiener aan hangertjie uitgeken
2013-01-17 07:01
Kaapstad – 'n Man is Woensdag in hegtenis geneem nadat 'n tiener vroeër vandeesmaand verdwyn het en haar erg verminkte lyk in 'n straat in Kraaifontein, Kaapstad, gevind is, het die polisie gesê.
Die 48-jarige man, die kêrel van 'n familielid, is weens die moord op die vermiste 16-jarige Charmaine Mare aangekla, het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.
Mare is op 11 Januarie as vermis aangemeld.
Haar familie het vakansie gaan hou en haar in die sorg van die 48-jarige man gelos. Toe hulle terugkeer, het sy spoorloos verdwyn.
'n Verbyganger het Maandag die verbrande lyk van 'n onbekende vrou in Darwinstraat, Kraaifontein, gevind. Haar arms en bene is afgesny.
Ná 'n soektog op die polisie se databasis van vermiste persone, het die polisie die lyk verbind met die verdwyning van die tiener. Mare se familie het haar aan haar hangertjie en tongring uitgeken.
"Toe ondersoekbeamptes die familie ondervra het, was die kêrel ook teenwoordig. Hy was baie vaag met sy antwoorde, terwyl die res van die familie baie behulpsaam was met hul antwoorde," het Van Wyk gesê.
Die ondersoekbeamptes het die man aangehou vir verdere ondervraging. Die polisie het ook die familie se twee motors deursoek en die veld gefynkam naby die toneel waar Mare se lyk gevind is.
Mare se arms is in die motorhuis van 'n huis gevind.
Die man sal Donderdag op aanklag van moord in die Blue Downs-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA