Entrepreneurs leer, in Afrikaans
2010-07-15 11:05
Johannesburg - Solidariteit Helpende Hand se eerste Afrikaanse entrepreneurskonferensie word op 17 Augustus aangebied vir voornemende en huidige entrepreneurs regoor Suid-Afrika.
Verskeie suksesvolle sakekenners, soos die bekende ekonoom Dawie Roodt, voormalige uitvoerende beampte van ABSA, Steve Booysen, en hoof- uitvoerende beampte van Sanlam, Johan van Zyl, gaan tydens die geleentheid as sprekers optree.
Die konferensie is 'n uitvloeisel van Helpende Hand se reddingsdaadkongres wat in Oktober 2009 by die Voortrekkermonument gehou is.
Vanuit die reddingsdaadkongres het die behoefte aan suksesvolle Afrikaanse sakemanne, wat as rolmodelle vir ons voormalige en hedendaagse entrepreneurs kan dien, duidelik na vore gekom.
Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die doel van die geleentheid om veral jongmense bloot te stel aan die wêreld van entrepreneurskap.
“Ons beoog nie net om jongmense te inspireer deur die suksesverhale van legendes in die besigheidswêreld nie, maar hoop ook dat hulle die lewenslesse van die sprekers ter harte sal neem,” sê Langner.
Langner meen voorts dat dit van uiterste belang is dat jongmense op 'n vroeë ouderdom leer om entrepreneuries te dink. “Dit is nodig om te besef hoe belangrik dit is om jou eie realiteit in Suid-Afrika te skep. Afrikaanse jongmense in die land is nie meer verseker van werk soos 'n paar jaar gelede nie,” sê Langner.
Volgens hom is Helpende Hand daartoe verbind om die kundigheid van Afrikaanse jongmense te ontwikkel om sodoende werkskepping en ekonomiese vooruitgang te stimuleer.
“Daar moet wegbeweeg word van die idee van werknemersekuriteit na die gedrewenheid om aanstelbaar te wees. Hoe meer vaardighede jy het, hoe makliker kan jy jou vaardighede in werksgeleenthede omskep,” sê Langner.
“Sodoende vrywaar jy jouself outomaties van regstellende aksie,” voeg hy by.
Volg Nuus24 op Twitter.