'Engel' se vlammedood
2010-02-11 08:11
Newcastle. – Sy was ’n engel met ’n passie vir kinders.
So het Arthur Nolte van Durban Sarah Holland (57), sy suster wat Dinsdag vroeg hier ’n vlammedood gesterf het nadat sy nege kinders uit ’n brand gered het, beskryf.
Die amptelike dodetal het Woensdag op 11 gestaan, wat agt kinders insluit, hoewel daar sprake is dat daar nog na vier kinders gesoek word.
“Sy het agt kinders by ’n venster aan die agterkant van haar huis uitgetel. Die negende enetjie was ’n week oue baba en dit was die laaste. Daarna het sy gesterf,” het Nolte gesê.
Die brand het eergister omstreeks 05:00 in die sitkamer van Holland se Hope in Christ-tehuis ontstaan. Sy het die tehuis die afgelope vyf jaar op ’n plaas in die eNgogo-gebied sowat 20 km buite Newcastle bedryf.
’n 11-jarige meisie het omstreeks 05:00 gaan bad en ’n lig in die sitkamer gesien. Dis toe dat sy opmerk die rusbank is aan die brand.
Volgens die polisie wil dit voorkom of al die inwoners van die huis na die agterkant gevlug het om van die vlamme te ontsnap.
Nolte het gesê ’n werker wat buite in ’n hut gewoon het, het aan die agterkant van die huis by ’n venster gaan staan en die kinders gevat wat Holland vir hom aangegee het.
“Ek het op een slag vyf familielede verloor,” het Nolte gesê.
Nick Pienaar, Holland se seun, en dié se drie kinders – Joshua en Justin (albei 12) en Nicole (6) – het saam met een van die versorgers in die brand omgekom.
Cheri Rowe, Nolte se vriendin, het gesê Holland was ’n vreugdevolle mens met appelrooi wange wat altyd gesê het “ons leef in liefde en hoop in Christus”, vanwaar die tehuis ook sy naam gekry het.
Sy het jare lank vrou-alleen vir tot 24 kinders op ’n slag gesorg – gekook, skoongemaak en die diere versorg. Naweke het Nolte en Rowe dikwels kom help en kos, klere en speelgoed wat hulle bymekaar kon skraap, vir die mishandelde en weeskinders gebring.
Buite die uitgebrande huis van “Granny” Holland, soos dié geliefde vrou in die gemeenskap bekend was, het kinders se plakkies, driewiele, ’n handsakkie, uitgebrande beddens en ’n hoop uitgebrande klere van die tragedie getuig. Die nege kinders wat die brand oorleef het, sal vandag as ’n groep na die Newcastle-krisissentrum geneem word nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is.
- Beeld