Elton Jantjies se pa sterf ná bysteek
2013-01-27 15:00
Johannesburg – Die Springbok- en Stormers-losskakel Elton Jantjies se pa is Saterdag dood nadat hy deur 'n by gesteek is, het die Sondagkoerant Rapport berig.
Thomas Jantjies (46) 'n adjudant-offisier in die weermag, is Saterdag in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria dood ná komplikasies van 'n bysteek.
Dit was altyd sy droom dat sy seuns, Elton (22), en Tony (20), vir die Springbokke speel.
Elton het sy debuut verlede jaar in September vir die nasionale span gemaak en Tony het vir die Jong Bokkies teen Ierland uitgedraf.
Tony speel vir die Blou Bulle in Pretoria.
Geen begrafnisreëlings is nog bekend gemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA