Else gaan eers bietjie vakansie hou
2009-12-05 07:08
Jeanne-Marié Versluis
Johannesburg - Jurie Els en sy vrou, Hestrie, gaan ’n ruk lank in Suid-Afrika vakansie hou voordat hulle terugkeer na hul huis in Auckland, Nieu-Seeland.
Els het nadat hy vrygespreek is gesê hy het “gemengde gevoelens” oor Robbie Klay.
Aan die een kant is hy kwaad en aan die ander kant “vergewe ek alle mense”.
Oor sy getuienis vroeër in die hof dat hy “definitief” siviele stappe teen Klay gaan instel, het hy gister gesê hy wil nie nou daaroor kommentaar lewer nie en dat “die reg sy gang sal gaan”.
Els was verheug oor die uitspraak. “Ek hou net nie van die kritiek (van die hof) nie, maar dit is oukei.”
Hestrie en hul kinders is nou sy eerste prioriteit.
Els het gesê “sukses, roem en geld” was eers belangrik vir hom. “Dit gaan nie meer oor my bankbalans nie. Die Here Jesus is heel bo, dan kom al die ander goed.”
Die afgelope 22 maande was vir hom “baie swaar”, maar “ek het vrede in my hart”.
Hestrie het gesê die afgelope twee jaar was “een van die grootste Christelike beproewings” in haar lewe, maar ook die grootste “opboujare” vir haar as Christen.
Sy en haar man is nou nóg nader aan mekaar.
Die egpaar en hul kinders sou gister na Els se plaas by Vrede vertrek waar sy ma, Tiny (83), woon.
Volgens Hestrie gaan hulle eers in Suid-Afrika vakansie hou saam met albei se families, hul vriende en aanhangers voordat hulle terugkeer na Nieu-Seeland.
- Beeld