Elfjarige seun by skool verkrag
2011-11-02 20:06
Johannesburg – ‘n Elfjarige seun is na bewering om die beurt deur vier ander seuns by ‘n skool in Eldorado Park, suid van Johannesburg, verkrag, het die polisie Woensdag gesê.
Die seun ontvang berading van maatskaplike werkers terwyl ‘n saak van verkragting ondersoek word, het kapt. Phil Khorombi gesê.
Volgens hom het die verkragting Vrydagoggend op die skool se perseel plaasgevind.
“In hierdie stadium kan ons nie veel meer besonderhede oor die kwessie bekend maak nie,” het hy gesê.
Die Gautengse onderwysdepartement het ook sy eie ondersoek na die gebeure van stapel gestuur, het Charles Phahlane, woordvoerder, gesê.
“Die kwessie het ons geskok en ons beskou dit in ‘n ernstige lig,” het hy gesê.
Phahlane kon nie die naam van die skool bekend maak nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA