Elektrisiteit word dalk meer as 19% duurder
2011-05-12 08:15
Kaapstad - Inwoners van die Moederstad kan volgens die stadsraad se konsepbegroting verwag om gemiddeld 19,94% meer vir elektrisiteit in die 2011-’12-boekjaar te betaal.
Dié begroting is egter nie Woensdag op die laaste vergadering van die huidige DA-beheerde stadsraad goedgekeur nie.
Ian Nielson, burgemeesterskomiteelid vir finansies, het gesê die raad het besluit om die goedkeuring van die begroting aan die nuwe raad oor te laat, wie se termyn in Junie begin.
Intussen het dit in die gange gegons en het raadslede en amptenare gesê die DA se besluit om nie die konsepbegroting te laat goedkeur nie is te wyte aan vrees dat sekere OD-raadslede nie ten gunste van die begroting sou stem nie.
Die DA het 106 stemme van die 210 stemme nodig gehad vir goedkeuring. Die DA het 100 raadslede, die OD 16, die ANC 72 en die ACDP 7.
Van die DA se 106 raadslidposte is vier vakant nadat die betrokke lede nie die kandidaatlyste vir die komende plaaslike verkiesing gehaal het nie en na ander politieke partye oorgeloop het.
Die res van die raad word gevul deur raadslede uit kleiner partye soos die UDM, UP, NNP, PAC, SDP, VF+ en onafhanklike kandidate.
Van die stygings ingevolge die konsepbegroting sluit in ’n styging van 5,9% in eiendomsbelasting. Huishoudings met ’n inkomste tussen R3 000 en R4 000 sal ’n belastingkorting van 50% kry.
Die raad het Woensdag afskeid geneem van Dan Plato in sy amp as uitvoerende burgemeester. Plato het op 13 Mei 2009 by Helen Zille oorgeneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger