Eksvrou vas ná moord op SA man in Thailand
2012-10-05 07:25
Durban – Die eksvrou van 'n Suid-Afrikaner wie se lyk langs 'n vlak graf gevind is, het erken dat sy hom vermoor het, het die polisie in Thailand gesê.
Lt.genl. Nares Nanphathote, polisiehoof, het aan Sapa gesê Oswald Heinrich Duvel se eksvrou en haar ma het erken dat hulle hom vermoor het.
Die 50-jarige Duvel se lyk is Sondagoggend aan die voetheuwels van die provinsie Saraburi, noord van Bangkok, gevind.
Thai Rath het berig Duvel, wat drie keer geskiet is, het net sy horlosie en ‘n blou onderbroek aangehad toe sy lyk gevind is.
Nanphathote het gesê die moord is waarskynlik "'n familie-twis oor die seun".
Duvel en sy eksvrou was gewikkel in 'n stryd om toesig oor hul kind.
Die Suid-Afrikaner het sy huis in Bangkok Saterdagoggend verlaat, maar het nooit teruggekeer nie.
Volgens Nanphathote het die eksvrou hom genooi om saam met haar in haar Toyota Fortuner te sit om 'n toesigooreenkoms te bespreek. Die eksvrou se ma was ook in die motor.
'n Derde persoon, wat op agter die agtersitplek gelê het, het toe na bewering die drie skote afgevuur.
Nanphathote het die man as die "nuwe man" beskryf.
Die Thai Rath-koerant het Donderdag ander polisiebronne aangehaal, wat gesê het die man is die aangenome broer van Duvel se eksvrou.
Volgens die berig was daar 'n koeëlgat in die voorruit van die motor en bloed op die agtersitplekke.
Nanphathote het gesê hy hoop Duvel se eksvrou se ma sal 'n staatsgetuie word wanneer die saak hof toe gaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA