Ekstra skoolvakke nou te kus en te keur
2011-01-09 10:30
Verlede jaar se matrikulante het altesame sowat 160 vakke geskryf.
Terwyl die gr.12’s van twee dekades gelede hoogstens twee ekstra vakke by hul verpligte ses jaareindvakke geskryf het, is dit deesdae algemeen dat sommige matrikulante tot vyf en ses bykomende vakke het.
’n Groot verskeidenheid “nuwe” tale, asook kultuur- en tegniese vakke het nou hul verskyning op die vaklys gemaak.
Van dié vakke is uiters beroepsgerig om skoolverlaters op ’n loopbaan voor te berei.
Op dié lys van vakke is deesdae tale soos Goedjarati, Hindi, Tamil, Teloegoe, Oerdoe en Arabies – dis benewens Afrikaans, Engels en al nege swart inheemse tale en byna alle Europese tale.
Nog interessante vakke wat hul verskyning gemaak het, is inligtingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, meganiese tegnologie, siviele tegnologie, rekenaartoepassingstegnologie, elektriese tegnologie, wiskundige geletterdheid, seevaartkunde, landboubestuurs-praktyke, landboutegnologie en -wetenskappe, perdestudies, maritieme studies en seevaartkunde, lewenswetenskappe, religiestudies, dansstudies, gasvryheidstudies, besigheidstudies, dramatiese kunste en toerisme.
Naamsveranderinge het ook plaasgevind. “Skeinat” (natuur-en-skeikunde) is deesdae fisiese wetenskappe en huishoudkunde is nou verbruikerstudie.
Waar toegepaste wiskunde en rekenaarwetenskap 30 jaar gelede eers van universiteitsvlak af gevolg kon word, is dit deesdae skoolvakke vir leerlinge wat van gr. 10 af al seker is oor hul naskoolse studierigting.
Terwyl talle matriekkandidate vanjaar met tien of 11 vakke – in baie gevalle almal met onderskeiding – geslaag het, was ses vakke met onderskeiding in die 1980’s en 1990’s ’n topprestasie.
Algaande het die vakaanbieding van topleerlinge tot sewe en agt vakke uitgebrei, en tans is tien vakke redelik algemeen.
Dit is omdat ’n vak soos wiskunde in verskillende rigtings as afsonderlike vakke aangebied word, sê me. Liesel Schoonwinkel van Port Elizabeth, ’n beroepsvoorligter en kenner van die funksionering van die linker- en regterbrein.
Sy sê dis “fantasties” dat kinders deesdae so ’n reuse-vakkeuse het.
“Leerlinge het ’n groter keuse wat betref die gehalte van die matriek wat hulle wil behaal.
“’n Denkvoorkeurmodel word gevolg: Erkenning word daaraan gegee dat verskillende mense verskillende denkvoorkeure het en op verskillende maniere leer.”
In die “ou tyd” was leerlinge vasgevang in die “Groot Vyf”: Afrikaans, Engels, natuur-en-skeikunde, biologie en rekeningkunde, met ’n keuse van die sesde vak.
“Leerlinge was vasgevange mense wat die slagoffers van die onderwysstelsel was.
“Deesdae is leerlinge die produk van die onderwysstelsel.
“Kinders besef daar word vir elke individu voorsiening gemaak.”
Baie mense het nie ná matriek die akademiese uithouvermoë of geld om verder te studeer nie, sê sy.
“Daarom is dit goed dat hulle nou al by matriek uitloop en reeds op ’n bepaalde vlak in ’n bepaalde rigting in diens geneem kan word.”
Mnr. Brian Schreuder, adjunk-direkteur-generaal (kurrikulumstudies) van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê landwyd het skoolverlaters nou die geleentheid om hulle in landsbelang én vir persoonlike groei te bekwaam.
“Behalwe die kernvakke is daar die kunste en kultuur omdat sekere kinders ’n behoefte hieraan het.”
Perdestudies as vak is aanvanklik ingestel vir die Jokkieskool in KwaZulu-Natal en die twee seevaartrigtings vir die maritieme skool in Simonstad, sê hy.
“Ons is versigtig dat ons die kurrikulum nie só verbreed dat kinders in ’n doodloopstraat beland nie. Ons hou die balans van vraag en aanbod fyn dop. Jy kan nie te veel kinders in ’n vak soos toerisme laat spesialiseer as daar nie ’n vraag daarvoor is nie. Baie vakrigtings is aan bepaalde landsgebiede gekoppel.
“Ons neem in ag dat jy nie elke vak by elke skool kan aanbied en dan steeds gehalteonderwys kan verwag nie.”
- Rapport