Eks 'voel jammer' vir Calitz
2012-12-10 17:50
Kaapstad – Bruno Pelizzari, wat byna twee jaar saam met Debbie Calitz deur seerowers in Somalië aangehou is, het gesê hy voel jammer vir haar, berig The Times.
Die paartjie is onlangs uitmekaar en Pelizzari werk nou in Tanzanië.
"Ek kan niks daar vir haar doen nie, want my prioriteit is my boot. Ek kan dit nie los nie. Dit is my lewe en my spaargeld, maar Debbie wou nie na die boot teruggekeer het nie, en dit is dit," het Pelizzari uit Dar-es-Salaam gesê.
"Debbie kom nie Dar-es-Salaam toe nie en ek gaan nie Pretoria toe nie, so ek is nie regtig seker waar ons staan nie."
Calitz en agt ander mense het Maandag op dwelm-verwante aanklagte in die Hatfield-streekhof verskyn nadat hulle verlede week tydens 'n klopjag by 'n woonstel in hegtenis geneem is. Sy en haar seun en dogter deel dié woonstel.
Calitz, Kerri-Anne Cross, Matthew Beukes, Jarryd Lottering, Timothy Lombard, Jason Cross, Nicolas Fourie, Zane Coles, en Donavan Coles staan elkeen tereg op aanklag van die besit van dwelms. Hulle is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Landdros Kenneth Chauke het die saak tot 30 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.
Pelizzari het gesê hy is verras oor Calitz se inhegtenisneming.
"Sover ek weet het sy nie dwelms gebruik nie. Arme Debbie. Ek voel regtig jammer vir haar. Na alles waardeur sy is, moet dit nou met haar gebeur."
Pelizzari het gesê die gevolge van Calitz se inhegtenisneming kan verwoestend wees en dat mense nou gaan dink dwelms het 'n rol gespeel in hul ontvoering.
"Ons is in die openbare oog en mense is teen dwelms, so dit stel ons in 'n swak lig. Mense ken my en weet watter tipe mens ek is.
"Ek is nie betrokke by sulke goed nie. Ek is gelukkig om op my boot te werk en dit is my enigste prioriteit."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter