Eks skryf brief aan "borrelende" Fiona
2010-08-22 06:19
Die familie van Fiona Coyne, aanbieder van The Weakest Link, wat Woensdag selfmoord gepleeg het, het na die skokvoorval verkies om alle kontak met die media te vermy.
Maar haar gewese man, die skrywer Willie Fritz, het ’n hartroerende brief aan Rapport gegee waarin hy sy hart uitstort.
Dit bevat onder meer aangrypende vertellinge van hul gelukkige vier jaar saam in Kenia.
Coyne se huis teen die berghang in Risistraat, Vishoek, was gister verlate - met ’n oorvol posbus en wit madeliefies by die oprit.
In sy brief skryf Fritz: “Die meeste mense ken jou seker as die gasvrou van The Weakest Link. Swart klere, rooi hare, brilletjie op die neus. Altyd ’n vinnige, spitvondige (en partykeer snerpende antwoord) op alles.
“Maar daar was ’n ander Fiona ook. ’n Borrelende jong meisie in ’n verflenterde sweetpakbroek met ’n boskaas rooi hare wat tot op haar boude hang. En ’n brandende begeerte om voluit te lewe.
“Deur die jare het ons altwee Kapenaars in murg en been geword, behalwe vir vier jaar toe ek by ’n reklameagentskap in Kenia gewerk het.... terwyl jy by die Sheldrick Wildlife Trust (waar hulle wees olifantjies grootmaak) gewerk het. ... daar was dae wat ons vier, vyf-uur in die oggend gaan wag het vir die vliegtuie wat die olifantjies inbring,...dan hou jy hulle styf vas en streel hulle oor hul koppies en fluister in hulle ore: “shhh, I’m here, you’re safe now.
“Toe ons terugkom (van Kenia) het jy begin skryf. Met jou tweede stuk, Glass Roots, bel jy my uit Grahamstad en gil in my oor: “IT’S A TRIUMPH!” Dit was jou eerste deurbraak, en van toe af was jy suksesvol in alles wat jy gedoen het.
Ons paaie het amper twee jaar gelede uitmekaar geloop en, alhoewel ons vriende gebly het, het ons in die laaste ruk nie meer veel kontak gehad het nie.
“Ek het jou ’n paar maande gelede gesien en jy was baie opgewonde oor ’n bewaringsprojek in Zimbabwe. En ons het land en sand gesels soos in die ou dae.
“Die dag na jou dood het ek wakker geword met die gedig, Ample make this bed, van Emily Dickinson in my kop. Toe onthou ek: dis die gedig wat gelees word aan die einde van die rolprent Sophie’s Choice. “Ons het dit in die laat tagtigs saam gesien in die kunsbioskoop onder in Adderleystraat en ons stukkend gehuil in mekaar se arms en besluit Meryl Streep is die beste aktrise wat ooit geleef het.
“En vandag is die gedig net so van toepassing op jou.Ek wens jou vrede en liefde toe. Jy sal vir altyd in my hart wees. En ek sal mooi na die honde kyk.”
- Willie Fritz
Talle boodskappe vir Coyne se bydrae kom uit veral die teaterwêreld.
Stephen Jaffe, administratiewe direkteur van die Baxter teatergroep, sê Coyne was ’n groot aktrise en van haar werke was meesterstukke.”
Sue McKenzie, van die Christel House International, het uit Indianapolis (VSA) aan Rapport gesê Coyne was ’n geliefde vriend van Cristel House. Sy het haar tyd en talent oorvloedig gegee en was ’n wonderlike inspirasie vir die studente.
’n Dodemis word Dinsdag, 24 Augustus, om 12H30 in die St. Peters Katolieke Kerk in die Strand gehou. Donasies sal na Cristel House en die Helderberg dierewelsynvereniging gaan.
Die nadoodse verslag sal hierdie week bekend gemaak word.
- Rapport