Ekonoom: Rentekoerse té laag
2011-11-08 14:13
Johannesburg – Suid-Afrika se rentekoers is te laag en inflasie is te hoog om ekonomiese groei te bevorder, het die ekonoom Chris Hart Dinsdag gesê.
Beleidmakers “het vergeet dat besparing ‘n kritieke komponent is om ekonomiese groei te dryf”, het Hart tydens ‘n sake-ontbyt in Johannesburg gesê.
Hy sê Suid-Afrika se repokoers van 5,5% is te laag om groei aan te moedig. Terselfdertyd was die inflasiekoers van 5,7% te hoog om besparings die moeite werd te maak.
Beleggers moet vergoed word vir inflasie en tyd wanneer hulle spaar.
“Beleidmakers het dit nie in ag geneem nie,” het Hart gesê.
Lae rentekoerse in die ontwikkelde wêreld – sommiges so laag as nul persent – lê groei aan bande.
Sentrale banke oor die wêreld heen het rentekoerse begin sny en die ekonomiese stelsels met geld laat oorloop.
Terselfdertyd is inflasie besig om oor die wêreld toe te neem.
“Hanteer mens stadige groei of inflasie?” het hy gevra en bygevoeg dat die twee teenoorgestelde oplossing vereis.
Hart het voorspel dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank nie op die dreigement van stygende inflasie sal reageer nie, maar dat dit na groei sal kyk.
Om hierdie rede sal die Reserwebank die rentekoers onveranderd hou vir die hele 2012.
Hart verwag dat inflasie na bo 7% sal styg in die tweede kwartaal van 2012 as gevolg van die swak rand.
Dit was hoër as die algemene konsensus dat inflasie tot ‘n maksimum van 6% tot 6,5 % sal styg in die eerste kwartaal volgende jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA