'Ek was bang' – Moodley
2012-01-26 19:56
Johannesburg – Die veroordeelde moordenaar Donovang Moodley het nie die polisie gekontak nadat Leigh Matthews se lyk gevind is nie omdat hy bang was, het die Hooggeregshof in Johannesburg Donderdag gehoor.
“Ek het by die huis gesit en die mediadekking op die televisie gekyk,” het Moodley gesê.
“Die rede waarom ek nie die polisie gekontak het nie, was omdat ek heeltemal bang en histeries was.”
Moodley is in 2005 daaraan skuldig bevind dat hy die student Leigh Matthews (21) in Julie 2004 ontvoer en vermoor het. Hy beweer nou hy het nie Matthews vermoor nie.
Hy het Woensdag sy aansoek begin om herverhoor te word.
Sy argument berus daarop dat drie Nigeriese dwelmhandelaars – Frank, Allie en Jemba – Matthews ontvoer en vermoor het.
Daar is geknoei met bewysstukke wat in Matthews se motor gevind is, het hy gesê. Hy sê ‘n loterykaartjie met sy vingerafdruk op is vervals om hom valslik te beskuldig.
‘n Voetafdruk, wat na bewering aan Frank behoort het, is volgens hom deur die polisie verwoes of verloor.
Dit bewys dat “al die geraas wat ek oor die bekentenis gemaak het, inderdaad waar is,” het Moodley gesê.
Vroeër is berig Moodley se aanklaer het die hof gemaan om die veroordeelde moordenaar se aansoek om herverhoor te word, van die hand te wys.
Zaais van Zyl het Donderdag in die hof gesê Moodley se aansoek het geen vooruitsig van sukses nie.
Van Zyl het gesê Moodley se argument word op leuens gebaseer en dat Leigh Matthews beter verdien, het Eyewitness News berig.
- Moodley sal Woensdag hoor of hy herverhoor sal word. Regter Joop Labuschagne het Donderdag gesê hy sal die kwessie oorweeg en die relevante dokumente bestudeer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA