Ek sit nie in 'n hoek – Joost
2011-07-31 08:00
Johannesburg - “Ek het hierdie week twee keer gholf gespeel. En ek was al een aand saam met my vriende uit.
“Hoekom sal ek nou in ’n hoekie wil sit en myself jammer kry? Ek’s nie bedlêend nie.”
So het Joost van der Westhuizen (40), voormalige Springbok-held, Saterdag gesê nadat hy ondanks sy sogenaamde doodsvonnis by ’n modevertoning was.
Hy was Donderdagaand ’n gas by die bekendstelling van die nuwe Elle Macpherson-klerereeks in Johannesburg.
Dié uitstappie was in ’n hoogs emosionele week waarin dr. Erik Pioro, een van Amerika se voorste neuroloë, ná toetse in die VSA bevestig het Van der Westhuizen het ’n motorneuronsiekte (MNS).
Dit beteken dat hy volgens dokters ’n 80%-kans het om nog tussen twee en vyf jaar te leef en ’n 20% kans om langer as dit te leef.
Van der Westhuizen sê hy streef daarna om deel te wees van die 20%.
Hy het in November verlede jaar al probleme met sy spiere ervaar.
Die eens fikse Bok-kaptein kan nou nie sy regterhand ten volle beweeg nie.
Hy het verdere navrae na Bridget van Oerle, sy woordvoerder, verwys.
Van Oerle sê Van der Westhuizen gaan nie heeltyd by die huis sit en treur nie.
“Hy moet net sy lewe aanpas. Dis natuurlik nie die diagnose waarvoor ons gewens het nie.”
Voorts sê sy hy gaan voort om voluit te lewe, ironies ook die titel van sy vervreemde vrou, Amor Vittone, se eerste trefferliedjie.
Van der Westhuizen het Dinsdagaand teruggekeer uit Cleveland, Ohio, waar hy deur Pioro behandel is.
Pioro het nie op Rapport se navrae reageer nie en het die e-pos-versoek gestuur aan dr. Jody Pearl, Van der Westhuizen se Suid-Afrikaanse spesialis.
’n Vorm van MNS is in April voorlopig by Van der Westhuizen gediagnoseer.
Die dagblad Beeld het Donderdag berig Van der Westhuizen het amiotrofiese laterale sklerose (ALS), die algemeenste soort MNS.
Dit is ook bekend as Lou Gehrig-siekte.
Hy was vol hoop dat Pioro sy lewensverwagting met ’n paar jaar kon verleng, maar dit was vergeefs.
Van Oerle sê: “Dis ’n baie pynlike en intens persoonlike tyd vir Joost hierdie. Wat vir hom belangrik is, is dat hy sy tyd saam met sy kinders deurbring. Hy bly positief ten spyte van die diagnose.”
Vittone was aanvanklik oortuig haar vervreemde man lei die publiek om die bos.
Toe Karin Burger haar Donderdag bel en vra of sy wil kommentaar lewer, het Vittone gesê: “Glad nie, glad nie, glad nie. Bye.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport