Ek sal my gedra, belowe Malema
2012-12-17 15:30
Johannesburg – Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, het gesê hy sal hom gedra indien hy heraangestel word in sy pos.
Malema, die voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga Floyd Shivambu en die geskorste sekretaris-generaal Sindiso Magaqa, het die ANC se nasionale kongres gevra om die besluit deur die party se tugkomitee (NTK) omver te werp en hulle weer in hul onderskeie posisies aan te stel, het die Mail & Guardian Maandag berig.
"Ons is steeds lojale ondersteuners en lede van die ANC en is bereid om onder sy beginsels reggestel en gelei te word," het die drie in 'n gesamentlike verklaring gesê.
Die trio het gesê hulle het nie hulself tot die hof gewend nie, omdat hulle glo die nasionale konferensie moet die tugproses hersien wat tot hul skorsing gelei het.
Hulle het ook gevra dat Malema weer op die ANC se provinsiale komitee in Limpopo moet dien.
Die drie was vaag oor wat presies hul ander opsies is om "regverdige gehoor en geregtigheid" te soek indien hul versoek onsuksesvol is.
Die ANC het in April vanjaar aangekondig dat Malema permanent uit die party geskors is nadat hy die leierskapstyl van pres. Jacob Zuma ongunstig vergelyk het met dié van oudpres. Thabo Mbeki. Hy het ook uitlatings gemaak ook 'n regimeverandering in Botswana.
Malema is aanvanklik vir vyf jaar geskors op klagtes dat hy verdeeldheid in die regerende party gesaai en die party in oneer gebring het.
Sy woordvoerder, Shivambu, is vir drie jaar geskors nadat hy 'n joernalis uitgevloek en in 'n verklaring gevra het vir 'n regimeverandering in Botswana.
Magaqa, wie se tydperk van skorsing van drie jaar na een jaar verminder is, het neerhalende opmerkings gemaak oor Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, en die ANC se stand oor nasionalisering.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA