‘Ek is onbewus van Zuma se troue’
2009-12-28 10:09
Johannesburg – President Jacob Zuma se woordvoerder, Zizi Kodwa, het Maandag gesê is hy onbewus van die president se beweerde troue.
Die Sowetan het Maandag berig dat Zuma volgende Maandag glo met sy vyfde vrou, Thobeka Madiba, sal trou.
“Ek is onbewus van die troue. Ek is in Kaapstad en Zuma is in Nkandla. Ek weet nie wat gaan in Nkandla aan nie,” het Kodwa gesê.
Hy sal glo eers later verdere inligting rondom die bewerings kan verskaf.
Zuma het sowat twee jaar gelede met sy vierde vrou, Nompumelelo Ntuli-Zuma, by sy huis in Nkandla getrou.
Thobeka Madiba is verskeie kere saam met die president by amptelike funksies opgemerk.
Indien die troue wel plaasvind sal Zuma getroud wees met drie vroue op dieselfde tyd.
Die president was voorheen wettig getroud met Kate Zuma. Sy het in 2000 gesterf. Hy was ook getroud met Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake. Hulle het egter in 1998 geskei.
–Sapa