Ék het vir Nkandla betaal – Zuma
2012-11-15 17:55
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het Donderdag aan LP's gesê hy voel gegrief oor berigte oor sy huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.
"Dit is nie deur die regering gebou nie.
"Al die geboue en elke kamer wat ons in daardie huis gebruik, is deur ons as familie gebou en nie deur die regering nie," het hy in reaksie op 'n vraag in die Nasionale Vergadering gesê.
Zuma, wat duidelik ontsteld was, het gesê hy voel gegrief oor mediaberigte dat die regering meer as R200 miljoen vir sy huis betaal het.
"Op TV wys hulle die huis waarvoor ek betaal het, en hulle jok dat dit deur die regering gebou is. Dit is nie deur die regering gebou nie.
"Ek het vandag die geleentheid om te verduidelik, omdat my naam verkeerdelik gebruik word. My familie word ondermyn. Selfs deur agbare lede, wat nie vra wat regtig gebeur het nie. Vir die eerste keer moet ek aan julle sê ek voel gegrief."
In verwysing na die Demokratiese Alliansie se optog na sy huis vroeër vandeesmaand, het die president gesê hy neem aanstoot hieroor.
"Julle het leiers van politieke partye – wat nie weet of hulle provinsiaal of nasionaal is nie – wat na my huis reis en foto's neem en 'n bespotting maak van my familie. Ek neem aanstoot hieroor."
Zuma het gesê die enigste geld wat die regering aan sy huis bestee het, is vir sekuriteitsfunksies, insluitend omheining, koeëlvaste vensters en 'n skuiling.
"Ek is geraadpleeg dat die sekureitsopgraderings nodig was ingevolge die Wet op Nasionale Sleutelpunte."
Zuma het gesê hy het kontrakteurs aangestel om verbouings by sy huis in Nkandla te doen. Die bouwerk is begin, maar toe hy tot president verkies is, is daar aan hom gesê dat die sekuriteitsfunksies bygewerk moet word.
Hy het ook onderskei tussen die werk wat hy goedgekeur het en die bouwerk buite die grens van sy huis.
"Enige ander bouwerk, soos akkomodasie vir sekuriteitspersoneel, wat die regering buite die grens wat my huis doen, is nie deel van my huis nie."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA