'Ek het nie korrupsie-verslag ignoreer' – Dan Plato
2012-07-25 23:01
Kaapstad – Die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, het nie 'n verslag oor korrupte polisiebeamptes, wat aan hom gestuur is, geïgnoreer nie, het sy woordvoerder Woensdag gesê.
"Die verslag is nie geïgnoreer nie – verskeie e-posse is na die skrywer [Liza Grobler] gestuur om haar vir haar voorlegging te bedank," het Greg Wagner gesê.
"Ons verwelkom hierdie tipe studies en het so pas met die Instituut vir sekuriteitstudies saamgespan om effektiewe polisiëring te bevorder deur middel van ons "Reward a cop, Report a Cop"-program".
Dié inisiatief stel die publiek in staat om te sms, 'n hulplyn te skakel, e-posse te stuur of sosiale media soos Twitter te gebruik om kommentaar te lewer oor die polisie se aksies.
Die Cape Times het Woensdag berig dat Grobler, 'n kriminoloog, onsteld was dat daar blykbaar geen aksie geneem is sedert sy die bevindinge van haar studie na verskeie amptenare gestuur het nie.
In die studie beweer sy onder andere dat polisiebeamptes dwelms, wat as bewysstukke gebruik word, uit howe steel en polisievoertuie gebruik om dwelms vir dwelmhandelaars te vervoer.
Sy het die verslag in Februarie na Plato gestuur en gesê alhoewel hy ontvangs erken het, daar geen kommunikasie oor die bevindings was nie.
Volg Nuus24 op Twitter.