Ek het 'n vriendin verloor, sê model
2013-02-14 15:39
Pretoria – Mashadi Motsogi, 'n vriendin van Reeva Steenkamp, het gesê sy kon nie glo haar vriendin is doodgeskiet nie.
Steenkamp is Donderdag in die vroeë oggendure na bewering deur die bekende Paralimpiese atleet Oscar Pistorius in sy huis in 'n gholflandgoed in Pretoria doodgeskiet.
"Ek was op pad kampus toe toe ek joernaliste voor die landgoed sien en besef dat dit waar kan wees, dat sy dalk dood is. Ek weet Oscar woon daar. Toe ek bel het hy nie geantwoord nie. Hy het nie my oproep beantwoord nie," het 'n huilende Motsogi gesê.
Motsogi, ook 'n model, het gesê sy het op Twitter gesien Steenkamp is geskiet.
Sy het Steenkamp beskryf as 'n "vriendelike mens wat altyd ander wou help".
"Sy het nooit kwaad geword nie," het Mogotsi, wat gereeld by Steenkamp aangeklop het vir raad, gesê.
"Ek het 'n vriendin verloor," het sy gesê.
Mogotsi het gesê dit maak nie sin dat haar vriendin in 'n veiligheidskompleks doodgeskiet is nie.
"Kyk, die sekuriteit hier is veilig. Ons het na die gebied verhuis. Dit maak net nie vir my sin dat sy vir 'n inbreker aangesien is en geskiet is nie.
Pistorius sal later Vrydag in die hof verskyn omdat die hofrol vir Donderdag te vol was.
Hy het Donderdag 'n mediese ondersoek by die Mamelodi-daghospitaal ondergaan nadat Steenkamp vroeër die dag by sy huis doodgeskiet is.
Die bestuur van die reklame-agentskap waaraan Steenkamp behoort het, het ook hulde gebring aan die model.
"Ons gedagtes en gebede is met die Steenkamp-familie, wat gevra het dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd gerespekteer word. Almal is eenvoudig verpletter.
"Sy was die gaafste, dierbaarste mens; 'n engel wat baie gemis gaan word," het Sarit Tomlinson, besturende direkteur van Capacity Relations, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA