'Ek het gedink dis oordeelsdag'
2011-10-04 07:02
Ficksburg – “Ek het gedink dit is die oordeelsdag,” sê Malejone Mokhethi van Meqheleng naby Ficksburg oor die tornado hier wat tot ’n negejarige kind se dood gelei en honderde mense dakloos gelaat het.
In die spoor van verwoesting van die tornado wat volgens mense soos ’n slang hier deurgetrek het, het inwoners gister hul besittings bymekaargemaak.
“Ek is swak en hartseer,” het Vincent Tobalete Mkhekhe gesê.
Sy kleinseun Tjama het in die tornado gesterf.
Noodwerkers was orals te sien en die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het saam met ’n afvaardiging van die provinsiale regering Meqheleng besoek om self die omvang van die skade te aanskou.
Die woonbuurt is Sondag omstreeks 14:00 deur die tornado getref.
Dit het volgens inwoners net ’n kwartier lank geduur, maar die skade en verliese is erg.
Inwoners van Ficksburg, sakemense, kerkleiers en Moslems het hande gevat om kos, water en blyplek aan gestrande inwoners te verskaf.
Mkhekhe sê hy was Sondag op pad terug van ’n begrafnis toe hy sinkplate langs die pad sien lê het.
Sy huis het ineengestort en hy het sy kleinseun uit die rommel gehaal. Die kind het toe nog asemgehaal, maar is later dood.
Die kind was saam met sy pa en ma, Daniel en Mma Tjama Mkhekhe, bababoetie, Makume (ses maande), suster, Ketseletso (15), en tannie, Dimakatso, by die huis.
Die reën het swaar begin val en die wind het opgesteek.
Die tannie sê sy het deur die venster “iets swarts sien aankom”.
Nadat ’n venster gebreek het, het klein Tjama onder ’n bed gaan wegkruip waarna die huis ineengestort het.
Die ma, met klein Makume op haar skoot, het gister langs die bourommel van hul woning gesit. Die babatjie het skrape op sy gesig opgedoen toe die baksteenhuis inmekaargesak het.
Die pa word in die Phutuloha-hospitaal op Ficksburg vir gesig- en kopbeserings behandel.
Hy sê hy het nie geld vir sy kind se begrafnis nie.
Mokhethi sê sy en haar dogter, Madillo (14), het op die bed gelê toe die storm losgebars het. Sy het ’n sterk wind gehoor en opgestaan. “Toe ek by die deur kom, het die hele (sink)huis weggewaai.”
Sy sê haar dogter, wie se arm gebreek is, is deur die wind in die lug geslinger en het meters van waar die huis was, te lande gekom.
Minstens 43 mense is beseer, van wie die meeste ligte beserings opgedoen en behandeling ontvang het, maar nie in ’n hospitaal opgeneem is nie.
Drie word in die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem en sewe in Phutuloha vir frakture, snye, skrape en kopbeserings behandel.
Magashule het gister hier gesê: “Dit is groot skade.”
Hy het gesê ingenieurs bepaal tans die skade. Magashule het gesê die hele gemeenskap, kerke, sake-ondernemings, die Rooi Kruis en regering span saam om die mense in nood te help.
Gestrande inwoners word tydelik in kerke, skole en gemeenskapsale gehuisves.
Ds. Alwine Kapp van die NG kerk Ficksburg sê die gemeenskap skenk kos, komberse en klere aan die slagoffers.
Aslam Sardiwalla, metereoloog in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê geen verdere reën of storms word vandeesweek vir die Vrystaat voorspel nie.
– Enigiemand wat skenkings wil doen, kan Kapp by 084-585-8594 bel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad