'Ek het Anene aangerand, verkrag'
2013-02-27 11:51
Bredasdorp – Een van die mans wat na bewering die 17-jarige Anene Booysen van Bredasdorp verkrag en vermoor het, het erken dat hy haar aangerand en verkrag het, maar nié dat hy haar vermoor het nie, berig die Cape Argus.
Ao. Edmund Abels, die ondersoekbeampte, het Dinsdag in die Bredasdorp-landdroshof gesê die 21-jarige Johannes Kana sal nie om borgtog aansoek doen nie, omdat hy skuld beken het op aanklagte van verkragting en aanranding.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het buite die hof bevestig dat Kana skuld beken het vir sy aandeel in die misdaad en dat getuies hom die aand van die voorval saam met Anene gesien het.
"Hy het skuld beken vir sy betrokkenheid in die misdaad en forensiese toetse word op sy klere en skoene gedoen. Die staat wag vir die uitslae."
'n Sekuriteitswag het op 2 Februarie by 'n bouterrein op Anene afgekom, waar sy verkrag en vermink is. Sy het later in die hospitaal gesterf. Voor sy in die hospitaal gesterf het, het Booysen gesê "Zwai" en ses ander mans is verantwoordelik vir haar beserings.
Kana se medebeskuldigde, Jonathan Davids (22), wie se bynaam Zwai is, het onskuldig gepleit en sy borgtogaansoek het Dinsdag in 'n volgepakte hofsaal begin.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter