Eiendomsbelasting kan plase raak
2011-07-19 19:26
Kaapstad – Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting sal verhuring van huise op plase ook raak.
Mnr. Abrie Oosthuizen, woordvoerder vir die Vryheidsfront Plus, sê ’n ontwikkelaar wat onlangs huise op ’n plaas laat bou het, het hom Dinsdag (19 Julie 2011) in kennis gestel dat die wysiging plaaseienaars ook sal raak.
Sou die wysiging aanvaar word, sal dit belasting op residensiële eiendom wat verhuur word, met tussen 300% en 400% laat styg. Oosthuizen sê dié aanpassing “grens aan belaglikheid”.
Huurders hardste geslaan
Oosthuizen sê eienaars sal nie ’n ander keuse hê as om dié verhoogde koste aan huurders deur te gee nie, wat die land se eiendomsmark verder sal lamlê en verarming vererger. Die meeste mense in die land wat eiendom huur, is behoeftiges.
“In ’n land wat met ’n astronomiese behuisingstekort worstel en waar dit juis arm mense is wat huise huur omdat hulle dit nie kan bekostig om residensiële eiendom te koop nie, sal die beoogde wysiging heeltemal onverantwoordelik wees,” aldus Oosthuizen.
Hy sê hulle het die Regering gevra om die aansoek vir die wysiging te staak, aangesien Suid-Afrika se behuisingstekort reeds sowat twee miljoen eenhede beloop.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Landbouweekblad