Eienaar van mark sterf in ‘helse skietery’
2010-02-18 09:17
Johannesburg - ’n Mede-eienaar van die Pretoria Blommemark is in sy motor op ’n parkeerterrein by Menlyn Motor City doodgeskiet.
’n Verassingsdiens sal vandag vir Kushalen Naidoo (28) by sy ouerhuis in Raslouw, Centurion, gehou word.
Sers. Lynnette Erasmus, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê Naidoo het nog met sy sitplekgordel aan in sy motor gesit toe hy Dinsdagaand verskeie kere geskiet het.
Niks is geroof nie.
“Ek kan dit nie verstaan nie,” het Bala Naidoo (68) oor sy seun se dood gesê. Hy het die Pretoria Blommemark saam met sy seun besit.
Volgens Naidoo sr. het sy seun sy tyd in die Menlyn Park-winkelsentrum in die ooste van Pretoria gaan verwyl terwyl hy op sy vrou, Farzaana, wat by Varsity College daar naby studeer, gewag het.
Naidoo sr. glo sy seun is in die omgewing van die Menlyn Park-winkelsentrum deur misdadigers oorval en na Menlyn Motor City in Garstfonteinweg geneem.
“Daar moes ’n helse skietery gewees het. Ek weet my seun het ook geskiet, maar hulle het gewen,” het Naidoo sr. gesê.
Volgens Erasmus het ’n veiligheidswag gesien hoe ’n ander voertuig dwars agter Naidoo geparkeer het.
Die passasier van dié voertuig het uitgeklim en na die linkervoorkant van Naidoo se motor gegaan.
“Toe dié persoon sy vuurwapen uithaal en span, het die veiligheidswag weggehardloop,” het Erasmus gesê.
“Hy het na ’n kollega gehardloop en aan hom geskree om die polisie te bel. Terwyl hulle die polisie gebel het, het hulle die skote gehoor klap.
“Ons weet nie hoeveel mense in die ander voertuig was nie of in watter rigting hulle gery het nie. Niemand het iets gesien nie.”
Beeld het verneem daar is minstens agt keer op Naidoo se voertuig geskiet. Naidoo is verskeie kere van agter in die rug getref en het op die toneel gesterf.
Naidoo se vrou het haar swaer omstreeks 21:45 gebel om haar te kom haal nadat sy haar man nie in die hande kon kry nie. Hy moes haar om 21:00 opgelaai het.
Hulle het die polisie gebel en is kort daarna oor Naidoo se dood ingelig.
“My seun was ’n fantastiese mens. Nie net omdat hy my seun was nie,” het Naidoo sr. gesê.
Naidoo laat ook sy ma, Amerdo (61), en vier susters agter.
- Beeld