Egpaar word wéér op plaas beroof
2011-09-27 09:09
Ficksburg – Minder as ’n jaar nadat ’n egpaar hier op hul plaas Avondson deur drie mans aangerand en beroof is, het hulle Maandag weer onder rowers deurgeloop.
Willem Serfontein (65) en sy vrou, Anna (57), het omstreeks 17:00 ná werk by die huis gekom en is hier deur drie rowers ingewag.
Die rowers het die egpaar in die huis vasgebind, goed uit die huis uit gedra en op die egpaar se bakkie gelaai.
Mev. Serfontein het haarself losgewikkel en haar man bevry. Sy het uitgehardloop na die bakkie en weggejaag om hulp te gaan ontbied.
Die rowers het weggehardloop.
Jordaan Marais, veiligheidsbeampte van die plaaswag hier, sê die rowers was hul buit agterop die bakkie kwyt. Hulle het wel ’n selfoon en ’n tweerigtingradio, waarmee boere met mekaar kommunikeer, gesteel.
Die egpaar is nie ernstig beseer nie.
Mnr. Serfontein het snywonde van die toue waarmee hy vasgebind was.
Polisiebeamptes, boere en lede van die plaaswag het die rowers se spore tot by die Caledonrivier gevolg. Hulle is vermoedelik oor die rivier Lesotho in.
Marais sê vroeër vandeesmaand is nog ’n egpaar op dieselfde wyse hier op ’n plaas beroof.
Die Serfontein-egpaar is op 27 Desember verlede jaar ook deur drie mans in hul huis oorrompel en van klere, ’n hoëtrou-stel en hul selfone beroof. In dié rooftog is hulle aangerand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad