Egpaar vermoor ná doodsdreigement
2011-06-13 08:48
Johannesburg - Verlede Maandag het die polisie hom weggewys toe hy die vergiftiging van hul honde en ’n doodsdreigement wou gaan aanmeld.
Saterdag is Jan Malan (64), ’n oudpolisieman, en sy vrou, Susan (60), op hul kleinhoewe vermoor.
Sy was 20 jaar ’n klerk by die kinderhof.
’n Werknemer het hulle Sondag omstreeks 09:30 in hul huis by die Mooilande-kleinhoewes buite Vereeniging aangetref.
Hulle is vermoedelik met messe en ’n byl vermoor. Mev. Malan se keel was glo afgesny en mnr. Malan is in sy linkersy met ’n mes gesteek en het kapwonde aan sy kop gehad.
Volgens hul oudste dogter, Minetta McLachlan (39), het een van haar ouers se bure haar gebel met die nuus.
“Jacobed, die huiswerker, wou die wasgoed in die huis gaan haal. Sy het op my ma se lyk in die gang en my pa se lyk tussen die sit- en eetkamer afgekom.”
McLachlan het dadelik haar suster, Maryke Mortagua (33), gebel. McLachlan se man, Ian (43), is by die huis in terwyl sy buite gewag het.
“Ian het gesê ’n serp het my ma se gesig toegemaak en hy kon kopwonde op my pa se gesig sien,” het McLachlan gesê.
Een van die werknemers op die kleinhoewe het hulle verlede Maandag gebel met die nuus dat nóg twee van die egpaar se honde dood is, ná Malan vroeër die oggend afgekom het op Zack, ’n Yorkshire-terriër, wat vergiftig is.
“My pa het toe probeer om ’n saak by die Groendenne-satelliet-polisiestasie oop te maak, maar hy is weggewys omdat daar jurisdiksieprobleme is,” het McLachlan gesê.
Die aanvaller(s) het vermoedelik Saterdag ’n venster gebreek om by die huis in te kom, waar hulle die Malans ingewag het.
Die egpaar het met hul blou Toyota Corolla stilgehou en die inkopies in die huis gedra toe hulle oorval is. “My pa se beursie is nog saam met die kruideniersware op die kombuiskas. My ma gaan bêre gewoonlik eerste haar handsak in die kamer en dit is langs haar lyk gevind,” het McLachlan gesê.
Volgens die familie lyk dit nie of enigiets gesteel is nie, maar ’n polisielid op die toneel het bevestig die slaapkamers is “omgekeer”.
Konst. Teboho Lephoto, polisiewoordvoerder, het gesê hulle sal ondersoek instel oor waarom Malan weggewys is toe hy ’n saak aanhangig wou maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger