Egpaar se lyke langs huis gekry
2011-10-20 07:00
Welkom – Die twee erg ontbinde lyke van ’n egpaar van die stad is Woensdagoggend onder rommel agter hul huis in Lakeview gekry.
Die moontlikheid dat plofstof in die moord op Jan (50) en Maryna Prinsloo (45) gebruik is, word ondersoek, want albei slagoffers se koppe is vermink.
Kirk Bateman van Virginia, mev. Prinsloo se broerskind, het Woensdag op die twee lyke afgekom. Hy was by die huis op soek na sy pa, Sydney, wat glo ook daar gebly het.
“Die hek was gesluit en alles het baie stil gelyk. Ek het besluit om oor te klim en deur die vensters te gaan kyk. Binne het ek bloed gesien en agter die huis het ek op die twee lyke afgekom. Dit was met komberse en stukke van ’n kar toegemaak.”
Hy het die polisie vanaf sy skoonma se huis gaan bel.
Die Prinsloos huur die afgelope jaar die huis in Gullstraat, Lakeview.
Volgens ’n kollega van mnr. Prinsloo het hy by Beatrix-myn se nr 5-skag gewerk, maar hy was dae laas by die werk. Hy het vir mense by die werk gesê hy gaan ’n dokter in Bloemfontein besoek.
Kol. Koos van der Merwe, waarnemende stasiekommissaris van Welkom, sê die vermoede bestaan dat die twee lyke reeds meer as twee weke agter die huis lê.
Hy sê die bewyse dui daarop dat daar ’n bakleiery in die huis was en dat die egpaar vermoedelik binne die huis vermoor is omdat daar baie bloed in die huis gekry is.
Sleepmerke dui daarop dat die lyke na die agterkant van die huis gesleep is.
“Hulle koppe is erg vermink. Ons kon nog nie vasstel of dit met plofstof of ’n vuurwapen gedoen is nie.”
Van der Merwe sê die polisie het in die stadium nie verdagtes nie, maar hulle het baie leidrade wat hulle opvolg.
Hy sê daar is nie bewyse dat ’n derde persoon in die huis gebly het nie. Dit is ook nog nie duidelik of iets uit die huis vermis word nie, want Van der Merwe sê die huis is baie deurmekaar.
Van der Merwe doen ’n beroep op mense om veral in die feestyd die veiligheid by hul huise op te skerp en nie vreemdelinge in hul erwe toe te laat nie.
Wave Prinsloo, mnr. Jan Prinsloo se broer, sê hy is erg geskok oor die moorde.
Hy sê die egpaar het die huis in Lakeview sowat ’n jaar lank gehuur. “Ek weet nog nie hoe hulle vermoor is nie. Die polisie sal my laat weet.
“My bakkie wat hulle geleen het om Bloemfontein toe te ry, word vermis.”
Die familie vermoed ’n familielid is vir die moord verantwoordelik.
Die polisie is op soek na Sydney Bateman wat hulle moontlik met die ondersoek kan help.
Enigiemand met inligting kan die speurder aan diens by 082-301-3075 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad