Egpaar in huis oorval, vermoor
2011-12-22 12:56
Durban – Drie mans het 'n egpaar in Burbreez, Tongaat, doodgeskiet en hul seun gewond, het polisie in KwaZulu-Natal gesê.
"Die bekende sakeman Balaram Reddy (56) en sy vrou, Maliga Reddy (52), is Donderdagoggend doodgeskiet terwyl hulle in hul bed geslaap het," het kolonel Jay Naicker gesê.
Hul seun, Nivashin Reddy (27), is in die linkerkant van sy rug geskiet en verskeie kere met 'n mes gesteek.
Hy is in 'n ernstige toestand in die hospitaal.
"Balaram, Maliga en Nivashin het vermoedelik geslaap toe drie onbekende mans hulle Donderdagoggend oorval het," het Naicker gesê.
"Die rede vir die aanval is nog nie bekend nie. Die polisie is tans besig om vas te stel of enige goedere uit die huis gesteel is."
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA