Egpaar aangeval, man vermoor in nuwe huis
2011-06-27 09:16
Muldersdrift – ’n Egpaar is gister aangeval binne 12 uur nadat hulle in hul huis op hul nuwe hoewe by Muldersdrift ingetrek het – vermoedelik deur mense wat hulle help intrek het.
Weibrandt Elias Pistorius (53) en sy vrou, Magda (50), is gister kort voor 04:00 in hul slaapkamer in hul nuwe huis op die hoewe aangeval.
Hy is doodgeskiet en sy is in die maag gewond.
Die gesin het die vorige dag drie mans op straat gevra om hulle te help om die meubels en bokse die huis in te help dra.
Pistorius se suster, Beatrix Pretorius (52), het gister gesê haar broer “het so ’n groot hart gehad”.
“Hulle het die vorige dag van Kromdraai na die hoewe verhuis,” het Pretorius gesê.
Net sy beursie, selfoon en ’n flitslig is gebuit.
Lettie Güldenhuys (44), Pistorius se suster, het bevestig die egpaar het drie mans om hulp genader om hulle te help intrek.
“Hulle het met hul rûe na die deur geslaap toe mans glo die slaapkamer binnekom,” het Güldenhuys verder vertel.
Pretorius het gesê mev. Pistorius het vertel een van die rowers het “Hallo boss!” gesê terwyl hy met ’n flitslig in hul oë geskyn het.
Twee skote is afgetrek en haar man is in die arm en bors getref.
Hy het uit die bed gesteier en net een tree gegee voordat hy inmekaargesak het op die vloer.
Pistorius het gesê sy het nog ’n skoot gehoor en sy is in die maag getref.
Sy het volgens Pretorius geskree: “Vat wat julle wil hê!”
Sy het aan Pretorius vertel dat sy een van die rowers herken het as een van die mans wat hulle vroeër gehelp het om bokse in hul nuwe huis in te dra.
Mev. Pistorius het met ’n bloeiende wond oor die vloer gekruip en seker gemaak die rowers is weg voordat sy haar dogters, Carmi (14), ’n leerling aan die Hoërskool Randburg, en Janie Smit (21) wakker gemaak het.
Hul seuns, Adriaan (27) en Christiaan (28), het op hul ou hoewe in Kromdraai, buite Krugersdorp, geslaap.
Daarna het mev. Pistorius Güldenhuys gebel en dié het die polisie en ambulansdiens ontbied.
Pretorius het gesê haar broer en skoonsuster het nog nie eens kans gehad om die houers uit te pak nie.
“Ek was daar totdat die polisie sy liggaam verwyder het.
“Hy het so vreedsaam gelyk. Nou is hy net nog ’n statistiek.”
Mev. Pistorius is in ’n stabiele toestand in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die Muldersdrift-polisiekantoor het inligting oor die moord opgevolg en twee 20-jarige mans aangekeer.
Die verdagtes sal tot met hul verskyning oormôre in die Krugersdorp-landdroshof in aanhouding bly op aanklagte van huisroof, moord en poging tot moord.
– Volg nuus24 op Twitter.
- Beeld