Eeufees: Bul word geoffer
2012-01-07 10:41
Bloemfontein – Verskeie staatshoofde en internasionale gaste is na Bloemfontein onderweg om betyds te wees vir die ANC se eeufeesvieringe wat Sondag in Mangaung gehou word.
Saterdag word verskeie kultuur- en musieksaamtrekke gehou wat deur verskeie senior partyleiers bygewoon sal word.
Pres. Jacob Zuma hou vanaand 'n banket, waarna die feesfakkel om middernag aangesteek sal word.
Intussen word dromme en dreunsang gehoor buite die Waaihoek Wesleyaanse kerk in Bloemfontein waar Zuma 'n bul slag as deel van 'n reinigingseremonie, het RSG berig.
Volgens die nuusagentskap Sapa het Andrew Mlangeni, veteraan-ANC-LP, ‘n spies aan die president oorhandig.
Daar word berig dat Zuma die simboliese ritueel in ‘n kraal naby die kerk uitgevoer het. Hy het gesê “die jonges” sal die slagting prakties uitvoer.
Die president het oor die belangrikheid van die spies gepraat.
“Die spies was een van die belangrikste wapens wat ons in die oorloë van weerstand gebruik het,” het Zuma gesê.
“Hierdie is baie simbolies as gevolg van die struggle...”
Zuma het vertel hoe Albert Luthuli, voormalige leier van die ANC, die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (oftewel Die Spies van die Volk), geskep het, het Sapa berig.
Luthuli het gesê ‘n man van Afrika moet na sy eie huis gaan waar jou spies is wanneer hy ‘n vyand het, het Zuma vertel.
“En wanneer hy jou agtervolg... moet jy jou spies optel en hom steek.”
Zuma sê “ons het vandag die spies teruggegee. Vandag gaan die spies nie uit om te veg nie, maar dit word gebruik om vrede te bewerkstellig en die nasie te beskerm.”
Volg Nuus24 op Twitter