Asemtoetser-saak: Bestuurder pleit onskuldig
2011-05-24 08:23
Kaapstad - Die beskuldigde in Suid-Afrika se eerste toetssaak om die betroubaarheid van die Dräger-asemtoetser te bepaal, het Maandag skuld ontken op ’n aanklag van bestuur onder die invloed van sterk drank.
Die saak het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor regter Nathan Erasmus begin.
Clifford Joseph Hendricks voer in sy pleitstukke aan hy was nie die bestuurder van die betrokke swart Toyota Tazz toe hy die aand van 23 Januarie 2010 in hegtenis geneem is nie.
Hy ontken dat die alkohol in sy asem die wettige perk van 0,24 mg per 1 000 ml oorskry het en het gesê hy twyfel of die toestel wat gebruik is reg hanteer is of korrek gewerk het.
Verder lui sy pleitstukke dat hy twyfel of die persoon wat die Dräger-toestel hanteer het, gekwalifiseer is om dit te doen of dat die masjien reg gekalibreer was.
Erasmus moet beslis of die alkoholvlakke wat deur die Dräger-toetser gemeet word as akkuraat beskou kan word.
Hendricks is omstreeks 18:45 op die betrokke dag deur ao. Ashley Fritz in Greinhoutstraat in Kewtown, Athlone, in hegtenis geneem.
Fritz het gister in die hof getuig hy was op ’n roetinepatrollie toe hy skreeuende bande agter hom gehoor het.
Hy het ’n swart Toyota Tazz in die polisievangwa se kantspieëltjies gesien.
Die voertuig het sowat 2 m voor hom stilgehou, waarna die bestuurder (Hendricks) glo val-val met die sleutels in sy hand uitgeklim, aan die voertuig se deur vasgehou en dit toegemaak het.
Die twee het glo in ’n woordewisseling betrokke geraak toe Fritz vir Hendricks gevra het hoekom hy so ry.
Die polisieman het aan die hof gesê Hendricks was onvas op sy voete en dat hy ’n sterk drankreuk by hom bemerk het.
Fritz het hom daarna in hegtenis geneem en na die stad se alkoholtoetssentrum in Athlone geneem.
Daar het die Dräger-toestel sy asem-alkoholvlak op 0,95mg per 1 000ml gemeet. Die wettige perk is 0,24 mg per 1 000 ml.
Die saak gaan vandag voort. Advv. Derek Mitchell SC, Paul Hoffman SC, William King en Mornay Calitz verskyn vir Hendricks. Advv. William Downer SC en Christhénus van der Vijver verskyn vir die staat.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger