Eerste SAA-vlug vertrek na Europa
2010-04-20 09:32
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal na verwagting Dinsdagoggend hulle eerste vlug na Europa onderneem sedert ‘n vulkaniese aswolk oor Europa verskeie lugrederye tot stilstand geruk het.
“Ons het ‘n SAL-vlug wat omstreeks 10:00 Dinsdagoggend na Londen vertrek,” het Unathi Batyashe-Fillissy, die lughawensmaatskappy Acsa se kommunikasiebestuurder, gesê.
‘n Lufthansa-vlug het Maandagaand vanaf Suid-Afrika na Frankfurt vertrek. Verskeie ander vlugte sal na verwagting vanaf Suid-Afrika vertrek.
Hierby ingesluit is drie van British Airways se vlugte, wat sedert 15 April in Suid-Afrika gestrand is.
“Die lugrederye sal die passasiers kontak wat veronderstel was om nou te vlieg. Hulle sal ook die inligting op hulle webtuiste opdateer,” het Batyashe-Fillissy gesê.
Passasiers word egter gewaarsku dat die situasie enige tyd kan verander.
“Daar is ‘n tweede aswolk wat moontlik die Europese lugruimte sal affekteer. Alhoewel hierdie vlugte bevestig is, kan dinge enige oomblik verander.”
Internasionale nuusagentskappe het berig dat die Europese regerings Dinsdag sal begin om die lugruimte weer oop te maak vir vlugte.
- Sapa